News




Nov 2017
Sun Mon Tue Wed Thu Fri Sat
   1 2 3 4
5 6 7 8 9 10 11
12 13 14 15 16 17 18
19 20 21 22 23 24 25
26 27 28 29 30   



  • KAASFEES GUNSTELING ONDER BORGE



    KAASFEES GUNSTELING ONDER BORGE

    Die SA Kaasfees vier vanjaar reeds sy 11de bestaansjaar en lewer ongetwyfeld ‘n beduidende bydrae tot die uitbou van die plaaslike kaasbedryf.  Enersyds bied die geleentheid opkomende kaasmakers ‘n platform om hul produkte aan die publiek bekend te stel en sodoende marktoegang te bekom, en andersyds word die verbruiker blootgestel aan die groot verskeidenheid kaas beskikbaar, asook verskillende opwindende gebruiksmoontlikhede.

     

    “Die sukses van die fees kan gedeeltelik toegeskryf word aan die feit dat ons die fokus op kaas deurentyd suiwer gehou het – hierdie is nie bloot nog ‘n voedsel-en-wynfees nie,” sê Johan Ehlers (Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo). “Ons bied oud en jonk ‘n omvattende en interaktiewe ervaring van kaas en verbreed so die verbruiker se kaasgebruikshorisonne.” 

     

    Talle maatskappye kies derhalwe om hulle deur middel van borgskappe aan dié gewilde fees te verbind.  Met jaarliks meer as 30 000 besoekers en goeie voorafgaande publisiteit, is die geleentheid ‘n borgskapdroom.  Vier maatskappye is reeds vir die afgelope tien jaar deel van die Kaasfees-familie: Simonsberg Kaas (Parmalat), Ladismith Kaas, Absa en Welmoed (The company of wine people) het die kaasbedryf sodoende ‘n definitiewe hupstoot gegee.

     

    Volgens Rian van der Merwe, bemarkingsbestuurder van Ladismith Kaas, maak hulle betrokkenheid by die Kaasfees vir hulle totale bemarkingsin.  “Die Kaasfees dra by tot ‘n meer ingeligte kaasverbruiker en ons kry op een langnaweek die geleentheid om ons produkte aan ‘n wye spektrum van besoekers bekend te stel, ”  sê hy.

     

    “Die Kaasfees het oor die jare ‘n groot bydrae gelewer om van Suid-Afrikaners ‘n kaasnasie te help maak,” meen Ryk Coetzee, Bemarkingsbestuurder: kaas & botter by Parmalat SA (Simonsberg). “Die wedersydse kaasgesprek wat deur die fees moontlik gemaak word, is vir ons as kaasmakers wat passievol is oor ons produkte kosbaar aangesien ons nodig het om te weet hoe mense ons produkte ervaar.”  

     

    Absa se bydrae tot die Kaasfees het gestalte gekry deur hul borgskap wat jaarliks ‘n aantal klein kaasmakers ondersteun om na die fees te kom. “Oor die afgelope tien jaar het ons sowat 80 klein kaasmakers die nodige blootstelling gegee en sommige van hulle het soveel groei ervaar dat hulle gereeld onder die Qualité Kaastoekenningswenners is,” sê Willem Nel, Streeksbestuurder Ondernemingsbesigheid, Wes-Kaap.  “Die ondersteuning van hierdie klein besighede rimpel uit na die wyer bedryf en dra selfs by tot werkskepping in ons land se afgeleë streke.”   

     

    Hoewel kaas die hoofspeler op die Kaasfeesverhoog is, word ‘n aantal produkte wat as ideale pasmaats vir kaas dien, ook aan verbruikers voorgesit.  Aangesien kaas en wyn sulke goeie vennote is, is  Welmoed se jarelange betrokkenheid by die fees vir beide partye ‘n pluspunt. “Die fees bied ons die ideale geleentheid om ‘n geselsie met verbruikers aan te knoop,” meen Corne Oosthuizen, Handelsmerk & Besigheid Ontwikkelingsbestuurder van Welmoed Wyne.  “Die fees word professioneel georganiseer en bestuur en bied waarde vir geld vir die hele gesin en Welmoed is trots om aan so ‘n geleentheid gekoppel te word.”